Vandalisme en diefstal word ten sterkste deur die munisipaliteit veroordeel

by | Aug 11, 2025 | Media Release

Die munisipaliteit veroordeel onomwonde die misdade van vandalisme en diefstal wat dienslewering ondermyn en wetsgehoorsame inwoners ontneem van die dienste wat hulle regmatig toekom. Ons het onlangs ’n onrusbarende toename in die vandalisme van munisipale infrastruktuur waargeneem, veral in Wyk 2, Witteklip, Vredenburg, waar kabeldiefstal en skade aan straatbeligting kommerwekkend algemeen geword het. Ander gebiede in die Saldanhabaai Munisipaliteit word ook gereeld geteiken.

Die munisipaliteit het in Junie 2025 altesaam 16 ernstige voorvalle van vandalisme aangeteken wat skade van R76 176,00 beloop het. In Julie 2025 het ons agt voorvalle gesien wat R65 364,00 beloop het, met bykomende soorte skade wat nog verreken word. Tot op hede staan die totale koste vir die jaar op R472 399,00 in die Saldanhabaai- munisipale gebied. Hierdie uitgawes maak ’n beduidende verlies vir die munisipaliteit en sy belastingbetalende verbruikers uit.

Vandalisme en diefstal beskadig nie net munisipale infrastruktuur nie, maar het ook ’n nadelige uitwerking op die lewens van inwoners en belastingbetalers wat op hierdie dienste staatmaak. Niemand baat by misdaadgedrag nie.

Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om aktief ’n standpunt teen hierdie misdade in te neem. As u enige kriminele aktiwiteit waarneem, moet u dit asseblief onmiddellik by die polisie of munisipale wetstoepassing aanmeld. As ons saamstaan, kan ons verdere skade voorkom en die lewensgehalte van alle inwoners beskerm. Staan saam om die straatligte aan te hou, staan saam om ons strate en woonbuurte te beskerm, staan saam sodat ons veilig kan voel waar ons woon.

Aan diegene wat hulle met hierdie onwettige dade besig hou: julle stel nie net die publiek se veiligheid in gevaar nie, maar julle wys ook dat julle nie ’n greintjie respek vir jul medeburgers het nie. Ons veroordeel hierdie gedrag ten sterkste en sal aanhou om regstappe in te stel teen individue wat dié misdade pleeg.

Kom ons maak ’n einde aan hierdie vernietigende optrede. Stop vandalisme en diefstal – sommer vandag nog.

As u dié dinge sien gebeur, meld dit asseblief aan. SAPD Misdaadstop 08600 10111. SAPD Noodlyn 10111. Munisipale Wetstoepassing (022) 701-6912 (kantoorure) of (022) 701-6834 (na ure).